Formulário de pesquisa

2 Timoteus 1

Paulus groet vir Timoteus

1Ek, Paulus, is ’n *apostel van Christus Jesus omdat God dit besluit het. God het my gestuur om die goeie boodskap te bring dat Hy aan mense die *ewige lewe wil gee, aan die mense wat aan Christus Jesus behoort. 2Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir jou, Timoteus. Jy is vir my soos my kind, ek is lief vir jou. Ek bid dat God die Vader en Christus Jesus ons Here *genadig sal wees vir jou en dat Hy goed sal wees vir jou wanneer jy swaarkry. Ek bid ook dat Hy vir jou vrede sal gee.

Paulus sê dankie

3Ek dien God soos my *voorouers Hom ook gedien het. Ek weet wat is reg en wat is verkeerd, ek het niks gedoen wat verkeerd is nie. Ek bid gedurig tot God, elke dag en nag, en wanneer ek dit doen, dan dink ek aan jou en dan sê ek vir God dankie vir jou. 4Ek onthou hoe hartseer jy was en ek wil jou graag weer sien, want dan sal ek baie bly wees. 5Ek onthou dat jy waarlik in Christus glo. Jou ouma Loïs en jou ma Eunice het ook in Christus geglo. Ek is baie seker dat jy nou ook in Christus glo, soos hulle.

Paulus sê vir Timoteus hy moet sterk wees en nie moedeloos word nie

6Daarom sê ek jy moet onthou dat God ’n *genadegawe vir jou gegee het. Hy het dit vir jou gegee toe ek my *hande op jou gesit het. Jy moet onthou om daardie genadegawe altyd weer lewendig te laat word, soos ’n vuur wat weer lewendig word wanneer jy dit blaas. 7God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen. 8Jy moenie skaam wees om vir mense te vertel van ons Here nie. En ook, jy moenie skaam wees oor my wat in die tronk is omdat ek aan die Here behoort nie. Nee, jy moet saam met my swaarkry wanneer jy die goeie boodskap vir mense bring, want God sal vir jou die krag gee om dit te doen. 9Toe God ons gered en gekies het, het Hy ons *gewy om aan Hom te behoort. Hy het dit gedoen, maar nie omdat óns iets gedoen het nie. Nee, Hy het ons gered omdat Hy self besluit het om *genadig te wees vir ons. Voordat die tyd begin het, het God besluit dat ons aan Christus Jesus moet behoort. 10En nou het God dit vir ons gewys sodat ons dit self kon sien. Christus Jesus het gekom, Hy is die Een wat ons red. Hy het die dood heeltemal oorwin toe Hy die goeie boodskap gebring het, die goeie boodskap wat duidelik vir ons wys wat die lewe is wat nooit sal ophou nie. 11God het my gekies en aangestel om hierdie goeie boodskap te gaan preek en om ’n *apostel te wees en vir die *gelowiges te leer. 12Dit is hoekom ek nou swaarkry. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek weet in wie ek geglo het en nog altyd glo, en ek is baie seker dat God die krag het om dit wat Hy vir my gegee het, goed op te pas tot op daardie dag wanneer Christus weer kom. 13Jy het gehoor hoe ek vir mense die regte dinge geleer het. Dit moet vir jou ’n *voorbeeld wees hoe jy vir mense moet leer, en jy moet aanhou om in Christus Jesus te glo en om lief te wees vir mense. 14God het vir jou dinge gegee wat baie goed is, jy moet dit goed oppas. Die Heilige Gees wat in ons woon, sal jou help om dit te doen.

Mense wat saam met Paulus gewerk het

15Jy weet dat niemand wat van *Asië gekom het, my wou help nie, ook nie Figelus en Hermogenes nie. 16Ek bid dat die Here baie goed sal wees vir die huisgesin van Onesiforus, want hy het baie maal vir my gesê om sterk te wees en nie moedeloos te word nie. Hy was ook nie skaam oor my omdat ek in die tronk was nie. 17Nee, toe hy in die stad Rome aangekom het, het hy oral vir my gesoek en gesoek, en hy het my gekry! 18Ek bid dat die Here, wanneer Hy weer kom, goed sal wees vir Onesiforus. En jy weet baie goed hoe baie dinge Onesiforus vir my gedoen het in die stad Efese.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index