Formulário de pesquisa

Openbaring 18

God straf Babilon

1Nadat hierdie dinge gebeur het, het ek gesien dat ’n ander *engel uit die hemel kom. Die engel was baie sterk, hy kon baie dinge doen, en die lig wat om hom was, het dit lig gemaak op die aarde. 2Die engel het hard geskree en gesê:

*Babilon, die groot stad,

is afgebreek en plat!

Ja, dit is plat!

Die *duiwels woon nou daar,

al die *onrein geeste

kom daar bymekaar,

al die *onrein voëls

kom daar bymekaar,

al die onrein diere

kom daar bymekaar,

mense hou niks

van daardie diere nie.

3Babilon is plat op die grond,

want sy was soos ’n *prostituut!

Die mense van al die volke

het *onsedelik met haar gelewe,

hulle het aangehou,

hulle wou meer en meer kry!

Die konings van die aarde

het onsedelik gelewe met haar

en die *handelaars van die aarde

het ryk geword,

want sy was sterk en het graag

duur goed gekoop!”

4Toe het ek gehoor dat Iemand in die hemel sê:

“My volk, julle moet uitkom

uit daardie stad!

Dan sal julle nie sonde doen

saam met die mense

van die stad nie,

en God sal julle nie saam

met hulle straf nie!

5Die mense van daardie stad

doen baie sondes,

dit is ’n groot hoop sondes,

dit is so hoog soos die hemel!

Ja, God het onthou dat hulle

verkeerde dinge gedoen het!

6Julle moet dieselfde

aan hulle doen

wat hulle aan julle gedoen het,

julle moet hulle twee maal straf

vir elke verkeerde ding

wat hulle gedoen het!

Hulle het vir julle

die *beker van swaarkry

gegee om te drink.

Nou moet julle twee maal

die beker van swaarkry

vir húlle gee om te drink!

7Die mense van daardie stad

is soos ’n vrou wat haarself

baie mooi gemaak het

en baie duur goed gekoop het.

Nou moet julle haar

baie laat seerkry

en baie laat swaarkry!

Want sy sê vir haarself:

‘Ek is ’n koningin!

Ek is nie ’n weduwee nie!

Ek sal nooit huil en treur nie!’

8Daarom sal Ek haar op een dag

baie maal straf:

Sy sal *pes kry,

sy sal treur,

sy sal honger wees,

die Here God

sal haar verbrand,

want Hy straf haar

en Hy is sterk!”

9Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met die stad Babilon, en hulle het saam met haar duur goed gekoop. Maar hulle sal sien hoe sy brand, en hulle sal huil en kla oor haar. 10Hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. En hulle sal sê:

“Dit gaan sleg

met die *Groot Stad!

Baie sleg!

Dit gaan sleg met Babilon,

die sterk stad!

God het haar vinnig gestraf,

Hy het haar in een uur gestraf!”

11En die handelaars van die aarde sal huil en kla oor haar, want daar is niemand wat hulle goed koop nie. 12Niemand koop hulle goud, silwer, *edelstene en *pêrels nie. Niemand koop fyn materiaal, pers materiaal, sy, en materiaal wat rooi is nie. Niemand koop die baie soorte hout wat lekker ruik, die baie soorte goed van *ivoor, die baie soorte goed van duur hout, van koper, yster en *marmer nie. 13Ja, niemand koop die handelaars se *kaneel, *speserye, *wierook, lekkerruik-olie, speserye wat lekker ruik, wyn, olyf-olie, die beste meel, koring, beeste, skape, perde, waens, *slawe en mense nie.

14Ja, Babilon, jy het gehou

van baie goed,

maar nou is dit alles weg,

al die duur goed,

al die blink goed,

jy sal dit nooit weer sien nie!

15Die handelaars het ryk geword, want hulle het baie goed aan haar verkoop. Maar hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. Hulle sal huil en kla. 16Hulle sal sê:

“Dit gaan sleg

met die Groot Stad!

Baie sleg!

Sy het mooi klere gedra,

die materiaal was pers

en baie rooi!

Sy het goue goed gedra

en sy het mooi gelyk,

sy het edelstene

en pêrels gedra!

17Maar in een uur het God

die stad leeggemaak,

die stad wat so ryk was!”

Die kapteins van die skepe het ver gaan staan, en ook almal op die skepe en al die matrose en almal wat op die skepe werk. 18Hulle het gesien hoe die stad brand, en hulle het geskree en gesê: “Daar was nie ’n ander stad wat so wonderlik was soos hierdie groot stad nie!”

19En hulle het *stof op hulle koppe gegooi en gehuil en gekla. Hulle het gesê:

“Dit gaan sleg

met die Groot Stad!

Baie sleg!

Sy was ryk

en sy het almal ryk gemaak

wat skepe op die see het.

Maar God het haar in een uur

leeggemaak!”

20Ja, die hemel moet juig!

En al die mense

wat aan God behoort,

moet juig!

En die *apostels en die *profete

moet juig!

Want Babilon het vir júlle gestraf,

maar nou het God háár gestraf!

21’n Sterk engel het ’n klip opgetel, die klip het soos ’n groot *maalklip gelyk. Hy het die klip in die see gegooi en gesê:

“God sal vir Babilon ook so gooi!

Sy sal hard val,

en die mense sal haar

nooit weer sien nie!

22Niemand sal weer hoor

dat iemand in die stad

*harp speel nie!

Niemand sal weer hoor

dat iemand daar sing nie!

Niemand sal weer hoor

dat iemand daar ’n *fluit

of ’n *trompet blaas nie!

Niemand sal weer hoor

dat ’n *ambagsman

daar werk nie!

Niemand sal weer hoor

hoe iemand daar

koring maal nie!

23Die lig van ’n *lamp

sal nooit weer

in Babilon brand nie!

En niemand sal weer die stemme

van ’n bruid en ’n bruidegom

daar hoor nie!

Want, Babilon, jou handelaars was

die belangrikste handelaars

in die wêreld,

en jy het *getoor en jy het

die mense van al die volke

verkeerde dinge laat doen!

24Want jy het die profete

doodgemaak

en ook die mense

wat aan God behoort!

Ja, jy het baie mense

op die aarde doodgemaak!”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index